Om Groot te word met ’n Skrywersma: Minder Romanties as wat Dit Klink
- Michelene
- Apr 29
- 5 min read
Die Romantiese Mite vs. Die Werklikheid
Daar is ’n sekere nostalgie wat mense heg aan die idee om met ’n ouer wat ’n skrywer is groot te word. En ek het twee gehad. Maar hierdie blog gaan oor my Ma. My wonderlike, kreatiewe genie van ’n ma. Ja, ek is bevooroordeeld, en dit pla my nie. Ek erken onbeskaamd: Ek is mal oor my ma se boeke, haar karakters en haar verbeeldingryke manier
om dieselfde storie oor en oor te vertel: ou ontmoet meisie, iets dramaties gebeur, en almal leef gelukkig en tevrede. ’n Ware Disney-feëverhaal. Of ’n Hallmark-fliek, wat ook al die keuse van jou vermaak is. Ek hou van albei. Wanneer ek mense vertel dat my ma ’n skrywer was, sien party mense oggende op 'n rusbank en verhale wat soos met towery geweef word, kinderjare gevul met letterkundige verwondering.
En ja, daar was verwondering. Maar daar was ook baie stilte.
Eensame Kinderjare in Suid-Afrika
Dit was Suid-Afrika in die dae voordat die internet ons kant van die wêreld bereik het. Geen Google. Geen e-pos. Geen vinnige feite-nakyk of virtuele navorsingsreise nie. As my ma iets wou weet, moes sy self die navorsing gedoen het. ‘Potboilers’, soos sy haar boeke genoem het, kon nie vergelyk word met groot Amerikaanse of Wilbur Smith-treffers nie. My ma het geskryf vir die mense wat sy geken het en vir die gemeenskap wat sy liefgehad het. Vir die Afrikaner, en in die taal waarop sy as kind verlief geraak het. Dit was nooit oor geld vir my ma nie. Dit was altyd oor haar waarheid wat sy met haar lesers wou deel. ’n Wêreld wat mooi en regverdig is, gevul met lig, liefde en geloof in haar goeie Here.
Toe sy begin skryf het in die 70’s en 80’s, het my ma se studeerkamer haar toevlugsoord geword. Skryf was nie die romantiese najaging wat buitestaanders gedink het nie. Dit het lang, eensame ure beteken van worstel met karakters wat gekoester moes word, storielyne wat sin moes maak en ’n ma wat aanhoudend verdwyn het in ’n wêreld wat net in haar kop bestaan het.
Kuier met vriende en familie was skaars. Ander kinders het ma’s gehad wat beskuit gebak het en sosiaal was. My ma het stories gebak. Sy was ook ’n talentvolle tuinier, ‘n buitengewone kok, bakster, naaldwerkster en enigiets anders waaraan sy haar hand geslaan het. Maar skryf was haar eerste liefde, en ek het wel die gewig van haar afwesigheid gevoel. Maar dit het my nie minder trots gemaak nie. Gesinsvakansies was nog skaarser. Terwyl ander kinders gepak het vir stranduitstappies en safari-avonture, het ek vroeg reeds geleer dat sperdatums nie vakansie hou nie, en ’n skrywer se werk volg haar oral. Skootrekenaars en slimline was nog onbekend.
Die Balans Wat Sy Gevind Het
Maar my ma het selde haar werk bo my gekies. Sy het eenvoudig geleer om dit te balanseer, en daardie balans het effens anders gelyk as in ander huise.
Wanneer sy wel van haar lessenaar af opgestaan het, het sy daardie oomblikke spesiaal gemaak. Elke teetyd het iets besonders geword. ’n Eenvoudige peuselhappie het in ’n poppepiekniek verander, kompleet met uitgebreide stories oor ons gaste. Karakters wat ek nooit sal vergeet nie, het in ons tuin lewendig geword — Sir Herbert Baker was ’n klein speelgoedmannetjie met ’n groot kop, en ek dink hy het na bloubessies geruik. Hy is vernoem na die bekende Britse argitek wat soveel van Johannesburg se groot geboue ontwerp het. Dan was daar, Peter Rabbitir — vir my gekoop saam met my versameling Enid Blyton-kinderboeke van dieselfde naam. Peter was ons baie deftige heer, geklee in ’n netjiese, pasgemaakte baadtjie. Hy het my teetyd-etiket geleer. En Einstein… wel, hy was net Einstein. Dit is alles relatief, regtig. Met behulp van hierdie karakters het my ma my van persoonlikheid, konflik, die klein absurditeite en hoe om dit te waardeer, geleer.
Dit was nie net speletjies nie. Dit was geskenke.
Slaaptydstories en ’n Liefde vir Lees
Slaaptydstories is selde uit boeke gelees. Die meeste was op die ingewing van die oomblik, uit haar onuitputlike verbeelding gespin.
Lees was ’n moet. Dit was so belangrik soos die lug wat ons ingeasem het. Die huis was vol boeke op spesiaal gemaakte boekrakke. Ek het vroeg reeds geleer dat ’n storie jou orals kan neem — en dat my ma dikwels iewers in ’n paragraaf weggeraak het.
Wat Haar Skryfwerk My Geleer Het
Deur my ma passievol te sien werk, het ek dinge geleer wat geen klaskamer ooit kon leer nie: dissipline en deursettingsvermoë, insluitende die frustrerende maar noodsaaklike kuns van hersiening.
Ek onthou een spesifieke opstel wat ek vir skool geskryf het. Ek was omtrent vyftien. My ma het dit in stilte gelees, dit teruggegee en gesê: “Doen dit weer.” Daar was geen wreedheid in haar stem nie. Geen geskree of oordeel nie. Net ’n kalm verwagting dat ek beter kon doen.
Ek het dit weer gedoen. En weer.
Sy het my my opstel twintig keer laat oor skryf. Ek wens ek jok. Destyds het ek gedink dit was wreed. Nou verstaan ek; sy het my iets baie meer waardevol geleer. Sy het my geleer om deur te druk, deeglik te wees, konsekwent te wees wanneer niemand kyk nie, en om nooit, ooit op te gee net omdat die eerste probeerslag nie goed genoeg was nie.
Sy het my ook geleer om ’n speltoetser te gebruik. Sommige lesse bly jou by vir praktiese redes.

Trots, Nie Bitter Nie
Ja, haar skryfwerk het haar soms van my weggeneem op maniere wat ek destyds nie verstaan het nie. En dit het soms eensaam gevoel as kind, selfs as tiener. Daar was middae wat ek aan haar studeerkamerdeur geklop het en ’n vae “Nie nou nie, liefie,” gehoor het, want sperdatums moes gehaal word.
Maar ek kon nie trotser wees op wat sy in daardie stil studeerkamer met die groot eikehoutdeur opgebou het nie. Elke boek wat sy gepubliseer het, was ’n bewys van haar weiering om op te gee.
Haar Stem Leef Voort
En hier is die bitter-soet troos van dit alles: sy het my nooit regtig verlaat nie. Ek hoor haar stem in elke enkele karakter van haar. Haar skerp sin vir humor. Haar onverwagse goedhartigheid. Die klein dingetjies wat sy opgemerk het wat ander mense misgekyk het — iemand se lag, die kleur van ’n vreemdeling se skoene, die sweem van teleurstelling in iemand se afskeid. Die manier waarop my ma die wêreld gesien het — met ’n vurige liefde vir die lewe — skyn deur in alles wat sy geskryf het.
Soms, wanneer ek iets skryf, word ek stil en hoor haar dan sê: “Is dit die beste wat jy kan doen? Kan jy dit duideliker sê? Het jy die spelling nagegaan? Or Is die spelling korrek?”
Om groot te word met ’n skrywersma was nie die feëverhaal wat party dalk dink nie. Dit was beter. Dit was eg. En ek sal nie een enkele eensame uur daarvan verander nie.
Comments