top of page

Die Chaos en die Troos: Om groot te word in 'n Huis vol Dons en Pelsbolletjies

  • Writer: Michelene
    Michelene
  • May 14
  • 5 min read

Ek glo diere bring altyd 'n spesiale soort betowering in 'n huis. En die voorreg om groot te word omring deur 'n verskeidenheid harige sielietjies, versterk net daardie besondersheid. Die verantwoordelikheid wat mens leer om versigtig te moet trap, om waaiende sterte te tel voordat jy deure toemaak, en om te aanvaar dat daar altyd hare op jou klere sal wees, ongeag watter voorsorgmaatreëls jy tref; leer jou 'n fundamentele les aangaande onvoorwaardelike liefde: om verskille in persoonlikheid en gedrag te verstaan, en geduld, terwyl jy steeds gesonde grense toelaat.

As die jongste kind, met broers en susters wat baie ouer as ek is, was my ouerhuis altyd 'n bietjie eensaam. My kinderjare het bestaan uit speel met Barbie en Ken en watter nuwe bykomstighede ook al modieus was. Een of twee vriende was toegelaat, maar dit was skaars. Ons diere was altyd eerste, maar as ek nou terugkyk, is ek ontsettend dankbaar vir die vriende wat ek wel gehad het. Hulle was, en bly, buitengewone merkwaardige mense.

Gelukkig het ek 'n ma gehad wat 'n kind…'n mens se liefde en behoefte aan diere verstaan het, en sy het die diepte van eensaamheid en die ongelooflike gawe van harige sielietjies verstaan. Dus het sy ons huis met klein wesentjies gevul.


Die Roloproep

Mamma se klein miniatuur Maltees, Snow White, was eerste. Toe Tinkerbell en laastens Pandora.


Bekendstelling van die Maltese Trio: Snow White, my ma se skaduweetjie, koninklik en besonders. Tinkerbell, my eerste kosbare wesentjie – gegee aan my toe ek twaalf was, wit en donsig soos wolke en ongelooflik sterk. Daarna het Pandora gekom, my pa se getroue metgesel, wat gelyk het of sy verstaan dat pa’s wat voorgee dat hulle nie 'n miniatuurhondjie wil hê nie, altyd die is wat die meeste van hulle hou.


Die Res van Ons Harige Spannetjie

'n Paar jaar later het Aurelia, ons golden ridgeback, by ons bende aangesluit. Sy het 'n goue pels gehad, soos haar naam, wat 'goud' in Latyns beteken. Aurelia het aan ons almal behoort, en tog was sy op een of ander manier bo ons almal. Sy het deur ons chaos beweeg met die waardige geduld van 'n koningin wat haar effens onvanpaste koninkryk inspekteer. Kreatiewe mense is bekend daarvoor dat hulle ‘n 110 dinge in hul gedagtes en skedules het op enige gegewe oomblik. Ons huis was eksentriek, om die minste te sê, en ek het daardie erfenis beslis voortgesit. Vra maar net my arme man.

Matewis en Michael Knight – vernoem na my twee gunsteling reekse destyds: 'Matewis en Meraai' en 'Knight Rider' – twee katte, gemmer, en swart-wit onderskeidelik, wat onder hul eie jurisdiksie gewerk het, dit wil sê hulle het alle huisreëls geïgnoreer en hul eie afgedwing.


Tiger en Taz (kort vir Tasmaniese duiwel) – die hamsters wat as twee begin het en kortstondig 'n leër geword het.


Floyd - 'n pienkoog wit rot wat ek gered het van 'n eienaar wat haar nie meer wou hê nie. Ja, haar! Floyd was die bewys dat selfs die kleinste lewentjies ‘n tweede kans verdien. Wie onthou nog 'Floyd on Food'? En jy sou reg wees. Vandaar haar naam.


Moppet – ons konyn, sagmoedig met sagte ore. Vernoem na een van die konyne in Enid Blyton se Peter Rabbit-reeks.


Die Oopdeurbeleid

My ma het nooit enige geredde diere weggewys nie. Sy het nooit 'n wenkbrou gelig as ek by die huis aangekom het met iets nuuts en kwesbaar in my hande nie. Floyd het na ons toe gekom omdat ek nie kon verdra wat andersins met haar sou gebeur het nie. Mamma het bloot 'n hok gekry, plek gemaak en gevra wat sy eet.

Daardie soort onvoorwaardelike omgee het my gevorm. Ek het geleer dat elke wese 'n warm, veilige plek verdien.

Die katte het egter hul eie opinies oor hierdie filosofie gehad.

Matewis en Michael Knight het volgens 'n ander morele raamwerk gewerk. Hulle het eenkeer een van my troetelmuise gevang – 'n Shakespeariaanse tragedie wat ek nog helder onthou. 'n Ander keer het 'n voël uit sy hok ontsnap en dieselfde lot beleef voordat ek dit kon bereik. Maar dit het my nooit laat ophou om hulpelose diertjies te wil red nie. Dit het my net geleer om versigtiger te wees en hul skuilings te versterk.

Die natuur is eerlik op maniere wat ons vergeet om te wees.



Die Hamster Vermenigvuldigingsvoorval

In my laat tienerjare het ek twee hamsters gekoop. Tiger en Taz het heeltemal tevrede gelyk. Ek het toe nie besef dat ek 'n manlike en 'n vroulike hamster gekoop het nie.

Jy kan sien waarheen dit gaan ly.

Binne wat soos weke gevoel het, het ek twaalf hamsters gehad. Twaalf! My slaapkamer het 'n hamster-metropool geword. Hoe graag ek hulle ook al wou hou, tussen werk en studies was dit net nie moontlik nie. Uiteindelik het ek 'n teler gevind wat hulle geneem het. Nie heeltemal die prentjie wat ek in die vooruitsig gehad het nie, maar hul geluk het my begeertes oortref.

My ma het net haar kop geskud en gegiggel. ’n Stil “Ek het jou gesê.”


In ware Schalkie-trant

Om menslike persoonlikhede en eienskappe aan ons honde te gee, was ’n familietradisie.

Snow White was die waardige matriarg en stoïsynse filosoof. Tinkerbell was die speelse en bederfde prinses. Pandora, die dorps... Wel, Pandora was altyd baie spesiaal. Aurelia was die edele beskermer. Ons het stemme vir hulle uitgedink, hul gesprekke verbeel, uitgebreide dramas gekonstrueer oor wie wie verkleineer het oor die laaste hondbeskuitjie, en wie aan watter politieke party mag behoort.

Daardie stories het stille middae gevul. Hulle het my iets gegee om oor te lag wanneer daar niemand anders was om saam mee te lag nie.


Wat Ons Diere My Geleer Het

Elke temperament was ’n les.

Van die Maltese trio het ek geleer dat liefde anders lyk, afhangende van elke sielietjie. Snow White se toewyding was stil. Tinkerbell s’n was uitbundig. Pandora s’n was onwankelbaar en eg.

Van Aurelia het ek waardigheid geleer – die manier waarop sommige siele deur die wêreld beweeg, niks vra nie, maar alles verdien. Ek wens ek het haar meer liefde gegee. Sy het dit verdien.

Van die katte het ek eerlikheid geleer. Hulle het nooit voorgegee om iets anders te wees as wat hulle was nie.

Van Floyd, die rot, het ek geleer dat selfs klein sielietjies ‘n omvangryke vermoë het om te vertrou, as jy geduldig genoeg is om dit te verdien. Haar kop was dikwels in die kake van een van ons Maltese, maar hulle het haar altyd laat los. Vir hulle was dit ’n speletjie. Floyd moes geweet het dat hulle haar nie sou seermaak nie. Soms kom vertroue uit die mees onverwagte plekke.

Van die hamster-ontploffing het ek geleer dat die gesondste opsie soms is om net te laat gaan.


Die Draad wat Deurloop

Ek sal nooit ’n huis sonder troeteldiere kan hê nie. Dit is ’n vereiste. ’n Behoefte so fundamenteel soos mure en ’n dak.

Al die diertjies waarmee ek as kind geseën is, het ’n diep leemte gevul. Hulle het vir my iemand gegee om mee te praat, iemand om te versorg, iemand wat my nodig gehad het. Hulle het eensaamheid in ’n ander soort stille kameraadskap verander.

My ma het verstaan dat ’n huis vol diere nie chaoties is nie. Dit is ’n huis vol liefde, geduld en deernis.

As ek nou terugkyk, besef ek dat ons troeteldiere nie net my kindertyd gedeel het nie... Hulle het dit gered, net soos ek eens Floyd en al die wesies wat ek langs die pad teëgekom het, gered het. My huis, danksy my liefdevolle ouers en veral my begripvolle ma, was ’n huis van liefde en hoop vir ons almal.

Comments


bottom of page