
Skrywer Schalkie van Wyk sterf
Schalkie is uit die bloute, op 23 Januarie 2025, met longkanker gediagnoseer. Schalkie se dogter, Michelene, was langs haar ma se sterfbed toe sy op Saterdagoggend, 15 Maart 2025, om 01:45, haar laaste asem uitgeblaas het. Vriende en familie het Vrydag, 21 Maart, 2025, die lewe van die legendariese Afrikaanse romanskrywer, Schalkie van Wyk (84), tydens ‘n gedenkdiens gevier.
So passievol soos sy oor haar skryfwerk en die karakters in haar boeke was, so passievol was sy teenoor die daaglikse mense om haar, sê Michelene. “Dit was haar missie om almal met wie sy te doen gekry het, as belangrik in haar oë te hanteer. Ons as familie en vriende, asook die duisende lesers wat oor jare heen hulself ingeleef het in haar stories, sal haar lewenslus en woorde mis”.
Sowat 30 nabyvriende en familie het Schalkie se gedenkdiens bygewoon. Michelene vertel dit is juis so gedoen omdat haar ma iemand was wat “nooit enige erg aan groot gedoentes gehad het nie”. “Tydens haar lang loopbaan as skrywer het sy ook met uitsondering
mediaonderhoude toegestaan,” onthou sy. “Sy het altyd gesê die klem moet op haar skryfwerk en haar karakters val, en nie op haar as mens nie.”
Michelene sê haar ma was ‘n “uitsonderlike vrou wat lig en liefde aan amal wat sy ontmoet het, gebring het”. “Sy het die lewe voluit geniet en het haar aansteeklike lag met almal gedeel.” Dit is Michelene se missie om haar ma se 'stem' te laat voorleef deur nuwe generasies bekend te stel aan die vernuftige wêreld wat Schalkie Van Wyk so moeiteloos dekades gelede geskep het. "Ek weet dat sy postuum steeds nog baie vreugde aan die wêreld sal bring!"
Elize Parker, (March 27, 2025). Dogter langs sterfbed van skrywer van 300 romans.